Lugmag sal ’n eskader moet sluit

March 27, 2016

 

Die lugmag sal binnekort gedwing wees om óf hul Hawk- óf Gripen-vegvliegtuigeskader te sluit as gevolg van ’n besnoeiing aan die lugmagbegroting en die verswakkende rand.

 

Dit is die mening van verdedigingskenners wat sê die besnoeiing van 10% in die 2016-’17-begroting beteken dat ’n Hawk- én ’n Gripen-eskader ’n onbekostigbare luukse geword het.

 

“As daar gekies moet word tussen die Hawk-vegopleidingsvliegtuig en die Gripen-vegvliegtuig, sal die Hawk geskrap moet word,” sê die militêre kenner Helmoed-Römer Heitman oor die dilemma waarmee lugmaggeneraals sit ná die jongste begrotingsyfers.

 

As die valbyl op die Hawk val, sal dit beteken die lugmag het slegs tien jaar se diens uit die 24 Hawks geput. Hulle is by die Britte gekoop as deel van die omstrede multimiljardrand-wapentransaksie.

 

Die vermindering van 10% kom in werklikheid op ’n besnoeiing van minstens dubbeld soveel neer as in ag geneem word dat vliegtuigonderdele in dollar, of in die geval van die Hawk in Britse pond, gekoop word. Die rand se waarde het die afgelope jaar met 30% gedaal.

 

Toe die Gripens en Hawks destyds aangeskaf is, is die minimum onderdele vir instandhouding by die aankoopprys ingereken om die verkoopprys so laag moontlik te hou.

 

Nou het die geld opgedroog en daarmee saam ook die bietjie beskikbare onderdele.

 

Om ’n enkele uitskietstoel vir die Hawk te vervang, kos sowat R14 miljoen.

 

Om geld te spaar, is vier van die Hawks (waarvan drie weens ongelukke afgeskryf moes word) reeds gekannibaliseer vir onderdele.

 

Toe die vliegtuie destyds ingevolge die wapentransaksies aangekoop is, het die lugmag geraam dat die Hawks sowat 4 000 vlieguur per jaar sou vlieg. Binne die huidige begroting – en met slegs sewe vlieëniers oor wat hulle kan vlieg – word daar net sowat 560 uur jaarliks gevlieg.

 

Die Gripens is personeelgewys in nog ’n groter verknorsing.

 

Suid-Afrika het slegs vyf vlieëniers om die land se 26 Gripens, waarvan die helfte reeds op lang termyn gestoor word, te vlieg.

 

Dit volg nadat drie van die mees senior vlieëniers laat verlede jaar bedank het en ’n vierde bedanking tans onderweg is. (Sien berig hiernaas.)

 

Volgens Heitman kan die vegvlieëniers wat tans hul aanvanklike opleiding met die Hawk doen hul vegopleiding in die buiteland gaan doen – maar dan verkieslik by ’n lugmag wat vliegtuie soortgelyk aan die Hawk en Gripen ­bedryf.

 

“Kuba en Rusland (waar van die vlieëniers eersdaags van dié opleiding gaan ondergaan) is nie praktiese keuses nie. Dié lande se vliegtuie is totaal verskillend van ons s’n en boonop verskil dié lande se bedryfs- en vegleerstellings ook dramaties.”

 

Te min geld om die land se veg­eskaders operasioneel te hou is egter net die helfte van die lugmag se probleme.

 

Denel is tans besig om 64 van die mees ervare vliegtuigtegnici af te lê – almal mense wat aan lugmagvliegtuie gewerk het.

 

Dié 64 was die laastes van ’n dienskontrak tussen Denel en die lugmag wat oor bykans 40 jaar gestrek het.

 

Die lugmag het drie jaar gelede ingevolge dié kontrak kennis gegee aan 523 van die tegnici. Van hulle het meer as 30 jaar diens en ervaring in die lugmag.

 

Slegs die mees ervare en onmisbare kern van die groep is behou, maar ook hulle het sowat drie weke gelede gehoor hulle moet kies of hulle einde vandeesmaand of einde April wil gaan.

 

Volgens Jack Loggenberg van Solidariteit, wat heelparty van hulle verteenwoordig, word die afleggingspakkette nou in onderhandelings met Denel bespreek. Die meeste van hulle het aangedui dat hulle reeds einde vandeesmaand diens wil verlaat.

 

Loggenberg sê sowat die helfte het reeds ander werk dank­sy hul skaars vaardighede. Sowat 20% wil eerder aftree, terwyl die res nie ander werk het nie.

 

Die lugmag sal nou op hul eie intern opgeleide tegnici moet staatmaak om hul vliegtuie in stand te hou.

Ses van die 64 tegnici wat nou deur Denel afgedank word, het met vegvliegtuie gewerk en sewe was verbonde aan 21 Eskader, die BBP-eskader, wat verantwoordelik is vir presidensiële vlugte.

 

In laasgenoemde geval beteken dit dat die lugmag nou die meeste van sy herstelwerk en onderhoud aan die BBP-vliegtuie sal moet uitkontrakteer.

egibson@media24.com

Please reload

Featured Posts

CIOR/CIOMR Summer Congress 2018

July 31, 2018

1/6
Please reload

Recent Posts
Please reload

Archive
Please reload

Search By Tags
Please reload

Follow Us
  • Facebook Basic Square
  • Twitter Basic Square
  • Google+ Basic Square

© 2018 Reserve Force Council. All rights reserved.